François Morkel


2013

Hier volg die commendatio gelewer deur voorsiter J.L.Hattingh tydens die toekenning van die Stigting VOC se silwermedalje aan Kaptein François Morkel.


Volgens hierdie Stigting se grondwet wat vir die eerste maal in 1995 onderteken is, word in verdienstelike gevalle ’n silwer medalje aan persone of instellings wat besondere moeite gedoen het om die nalatenskap en gedagtenis van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te bewaar en oor te dra, toegeken. Die toekenning bestaan uit ’n medalje van suiwer silwer waarop die oosindiëvaarder Prins Willem afgebeeld is, en ’n versilwerde replika aan ’n blou lint vir gebruik, en gaan met lewenslange ere-lidmaatskap van die Stigting gepaard.

Dit was die Stigting se voorreg om reeds viermaal tevore sulke gevalle uit te ken en te vereer. Die eerste ontvanger was die internasionaal-vereerde meester-skeepsmodelbouer mnr Robert Lightley vir sy besondere modelle van VOC-skepe soos Africa en Goede Hoop. Die tweede was die bewaringsspan bestaande uit mnr Gawie en dr Gwen Fagan vir dekades van wetenskaplike bewaringswerk aan VOC-geboue soos o.a. die Kasteel de Goede Hoop. Die derde ontvanger was die veteraan-joernalis mnr Martinus van Bart, wat in weeklikse uitgawes van Die Burger bewys gelewer het, en steeds lewer, van sy belangstelling in die VOC en toewyding aan die bewaring van VOC-erfenis. Media 24 se spesiale gedenkuitgawe onder sy redakteurskap by geleentheid van die VOC se 400ste verjaardag word met waardering onthou. Die vierde geval was ons toekenning aan emeritus-professor Gerrit Schutte van die Universiteit van Amsterdam, vir sy lang lys van publikasies oor die VOC-tydperk in die Kaapse geskiedenis, wat voortgesit word met sy belangrike bydrae aan ons Stigting se komende publikasie oor dié tyd.

Van die VOC se totale nalatenskap in die suidelike halfrond is daar geen artefak groter, beter bekend of belangriker as Kasteel de Goede Hoop nie. Dit is een van Kaapstad se grootste toeriste-aantreklikhede. Die opvoedkundige potensiaal daaraan is onuitputlik. Dit is ook ons Stigting se vergaderplek. Polities en ideologies staan die Kasteel sedert die groot politieke verandering moeilik geplaas. Daar is die wat daarvoor lief is en ander wat minder lief is, die wat sy historiese verlede uitstal en ander wat die uitstallings neerhaal. Die koste van personeel en onderhoud is geweldig hoog, met ’n beperkte begroting in ’n moeilike ekonomiese tyd. Dit is vir sy werk as bewaker van Kasteel de Goede Hoop in dié moeilike tydperk dat die Stigting met kaptein Morkel as bestuurder van die Kasteel kennis gemaak het.

François Morkel het die B.A.-graad met Geskiedenis en Geografie in 1987 en die Hoër Onderwysdiploma in 1988 aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Na offisiersopleiding het hy by die S.A. Leër aangesluit en in verskillende poste gedien voordat hy in Januarie 1991 as verbindingsoffisier van die destydse Westelike Provinsie Bevels-Hoofkwartier in die Kasteel begin werk het. Hy was toe 24 jaar oud en die Kasteel 324 jaar. Van 1997 was hy twee jaar lank kurator van die Militêre Museum in die Kasteel, daarna Koördineerder van Funksies, Aanbiedings en Bemarking vir ’n jaar-en-’n half, en van Julie 2001 af tot Maart vanjaar, Kasteel Bestuurder.

Ons Stigting was gedurende kaptein Morkel se bestuurderskap bevoorreg om herhaaldelik en amper op vaste basis van die Kasteel se geriewe gebruik te maak. Ons het verskeie kere Stigtingsdag daar herdenk, met medewerking van die Regiment W.P. Ook ons algemene jaarvergaderings, komiteevergaderings en openbare lesings vind in die Kasteel plaas. Ons het selfs ’n groot formele dinee ddaar aangebied. Wanneer ons op toer gaan, staan twintig of meer motors drie dae en nagte veilig op militêre grond geparkeer. Dat dit gewoonlik gratis geskied, word deur ’n vrywillige bewaring-organisasie soos ons, hoog waardeer en ons bedank hom daarvoor. So word dit vir ons moontlik om binne die Kasteel, ons Stigting se natuurlike tuiste, op te tree en ook die publiek daarheen te nooi. Sulke vergunnings, waarvoor ander duur betaal, is altyd met die grootste welwillendheid gegee.

As Kasteel Bestuurder het kaptein Morkel in die voorste linie van VOC-bewaring gestaan. Die Kasteel se grootste vyand is sy ouderdom. Die boumateriaal van die stokou gebou moet onophoudelik teen verval en instorting onderhou word. Die hoë watertafel onder die fondamente, wat op die seestrand en tussen twee bergstrome staan, maak dat ekstra aandag aan klammigheid en muf, twee natuurlike vyande van bewaring en uitstalling, gegee word. Om die Kasteel in die openbare oog, van binne en buite ook netjies en skoon te hou en aan te bied, te midde van honderde daaglikse toeriste, feestelikhede en seremonies, kos goeie beheer en beplanning. Dit is waarom kaptein Morkel gedurig ekstra inkomste vir instandhouding probeer insamel met funksies soos die kleurvolle jaarlikse Kasteel Taptoe, musiekuitvoerings en verlede jaar selfs ’n opera.

Kaptein Morkel is verantwoordelik vir die Kasteel Beheerraad se Jaarverslag vir voorlegging aan die parlement, wat besondere politieke begrip en vaardigheid verg. As Sekretaris van die Kasteel Beheerraad is hy ook verantwoordelik vir kwartaalikse verslae aan die Raad en vir finansiële, strategiese en bewarings beplanning. Van 2001 af het hy ononderbroke ongekwalifiseerde ouditverslae van die ouditeurs ontvang. Dit alles, terwyl die Weermag die Kasteel se begroting en personeel terwille van besparing tot die wortel gesnoei het.

Omdat hy die Kasteel gekies het, en optree buite die normale militêre hierargie, het hy ook die normale bevorderingskursusse misgeloop, wat sy militêre loopbaan, sy salaris en toekomstige pensioen ernstig raak. Hy het die mantel opgeneem en veg in die voorste linie vir die Kasteel, waar hy veel meer as sy plig doen, en veel meer gee as wat hy kan hoop om te wen. Jan van Riebeeck en sy opvolgers sou trots op hom gewees het.

Terselfertyd moet genoem word dat in die tyd wat hy Kasteel Bestuurder was, ons Stigting VOC ook altyd dieselfde spontane, blymoedige geesdrif en samewerking van sy regterhand en vriend, sersant-majoor Saretha Slabber, geniet het. Ons beste wense vergesel hulle albei. Die Uitvoerende Komitee ken hiermee Stigting VOC se Silwer Medalje, sowel as ere-lidmaatskap van die Stigting aan kaptein François Morkel toe.