Hans Fransen


2016

Die volgende doodsberig is geskryf deur Piet Westra op 12 Desember 2017.

Dr Hans Fransen oorlede (1931-2017)

Die bekende kultuurhistorikius, museumkundige en bewaringsvoorvegter dr Hans Fransen is gister onverwags op 86-jarige leeftyd oorlede. Die afgelope jare is hy en sy vrou Marie Anneen van Zyl, met wie hy in 1966 getroud is, in Huis Nuweland in Newlands versorg.

Hans is 1931 in Amsterdam, Nederland, gebore waar hy sy studie in argitektuur begin, maar nie voltooi het nie. In 1954 verhuis hy na Suid-Afrika en behaal hier sy BA-graad in kunsgeskiedenis (UNISA,1968) en sy Ph. D. (Kunsgeskiedenis, Universiteit van Natal, 1981), dit terwyl hy by verskillenden instansies gewerk het. (O.a. as redaksie-assistant en proefleser by die Die Burger). Hy het egter sy nis gevind in die museum- en kunswêreld en vanaf 1962 poste beklee as waarnemende kurator van die Michaelisversameling in Kaapstad (1962-64), Kurator van die Stellenbosch Museum (1965-69), en Groot Constantia (1970-74) en assistent-direkteur van die SA Nasionale Kunsgalery (1975-80). In 1980 verhuis hy en sy gesin na Pietermaritsburg waar hy tot 1989 senior lektor in kunsgeskiedenis was by die Universiteit van Natal. Hier het hy ook in die politiek betrokke geraak en word 'n stigterslid van die Liberale Party van SA. In 1990 keer hy na Kaapstad terug en werk hier tot 2001 as 'n baie aktiewe en gewilde direkteur van die Michaelisersameling op die Groentemarkplein in Kaapstad. Hier het hy meer as 30 uitstalkatalogi en brosjures en talle artikels in gespesialiseerde tydskrifte bygedra. Sy gereelde rubriek in die KultuurKroniek van Die Burger was baie gewild.

Ook het hy 'n aantal belangrike boeke en hoofstukke in boeke bygedra oor kuns en argitektuur. Sy magnum opus is ongetwyfeld sy The old Buildings of the Cape (saam met Mary Cooks). Dit gee 'n beskrywing van oor die 5 700 belangrike ou geboue, met ruim 700 illustrasies en fotos wat meestal deur homself geneem is. Hans het my vertel dat hy vir hierdie boek 25 000 km per motor afgelê het en 5 000 km per fiets. Alleen vir hierdie boek verdien hy ‘een lintje’. ‘n Ander werk wat uitstaan is sy Old towns and Villages of the Cape wat in 2005 verskyn het. Dit is die eerste omvattende studie van die fisiese geskiedenis van oor die 1 000 ouer Kaapse stede, dorpe en gehugte uit die voorheen Kaapse kolonie, ook weer met talle illustrasies wat meestal deur Hans self geneem is. Sy vrugbare oeuvre is afgesluit met 'n boek oor Eric Laubscher en een oor die Kaapse barokkuns wat in 2014 verskyn het.

Hans was baie gewild en bedrywig in kunskringe en 'n aktiewe lid en dikwels bestuurslid van 'n verskeidenheid kuns- kultuur en erfenisorganisasies waaronder die SA Kunsvereniging, die Stigting Simon van der Stel, die Volksboukundige Vereniging , die SA Museumvereniging en tot onlangs ook as raadslid van die Van Ewijck Stigting. Orals het hy op sy eie sjarmante en intelligente manier sy enorme kennis met veel humor en wysheid bygedra. Terwyl hy hoof was van die Michaelisversameling is Suid-Afrikaanse kuns- en kultuurinrigtings geïnspireer deur die apartheidsfilosofie, deur die owerhede gesplits in 'n Afdeling Eie Sake en Algemene Sake. Die Michaelisversameling was nou onder Eie Sake (blank), tot groot verdriet maar ook hilaritiet van sy direkteur. Nie lank daarna nie is dit gelukkig weer afgeskaf.

Ook op sportterrein het Hans uitgeblink. Hy was baie trots daaroop dat hy ses Comrades Marathons en 21 Cape Argus-fietstoere voltooi het, dikwels saam met sy dogter Karin. Hy was ook 'n groot musiekkenner en -liefhebber en het tot laat in sy lewe selde 'n Kaapstadse Simfonie-konsert gemis.

Erkenning vir sy groot kulturele bydrae het nie uitgebly nie. In 1984 ontvang hy die eremedalje van die Stigting Simon van der Stel; in 1993 die Cape Times toekening vir Bewaring; in 2001 word 'n Ridder in de Koninklijke Orde van Oranje-Nassau, in 2008 ontvang hy 'n eredoktoraat van die Universiteit van Stellenbosch en in 2016 die silwermedalje van die Stigting VOC.

Almal wat Hans geken het, persoonlik of deur sy enorme kulturele bydrae sal hom baie mis. Hy word oorleef deur sy vrou Anneen, dogter Karin en eggenoot, en twee kleinkinders.