Marie-Louise Roux


2016

Lewensloop en belangstellings

Marie-Louise Roux is gebore te Pretoria (19/7/1931).

Sy natrikuleer aan due Langenhoven Hoërskool, Riversdal op 16 jarige ouderdom.

Sy verkry in 1950 ‘n B.A.-graad van die Universiteit Stellenbosch, waar haar twee oupagrootjies, prof N.J. Hofmeyr en prof P.J.G. de Vos, (eersgenoemde een van die eerste twee hoogleraars van die Kweekskool en medestigter van die Hoër Meisieskool Bloemhof en Paul Roos-gimnasium, en laasgenoemde wat later 19 jaar lank kansellier van die Universiteit sou wees), nou verweef was met die opvoeding van die jeug, wat haar in haar keuse van beroep beïnvloed het. Sy was uiteindelik 42 jaar lank taalonderwyser!

Sy verwerf die onderwysdiploma aan Rhodes Universiteit in1951 en begin skoolhou in Bulawayo, Suid Rhodesië in 1952.

Met die eerste oorsese Volkspeletoer van 1953 is 96 spelers vir Suid-Afrika verkies, en een paar elk vir Suidwes-Africa en Suid-Rhodesië, (soos dit toe nog bekend was). Sy was gelukkig om vir Suid-Rhodesië gekies te word, en had dus die voorreg om vir vyf weke lank deur ses Europese lande te dans en te sing, onder leiding van Cecile de Ridder, wat pas tevore die groot volkspelevertoning by die Van Riebeeck-fees in die Kaap gelei het, en dr. Samuel (Pa) Pellisier, stigter van die Volkspelebeweging in Suid-Afrika. Op hierdie toer deur die naoorlogse Europa beïndruk die erns wat gemaak word met die heropbou en behoud van argitektoniese kultuurskatte haar.

Getroud in 1956 ; word Vrystaatse boervrou ; een seun, Gabiel Daniel (Ziggy).

Na haar egskeiding aanvaar sy 'n onderwyspos op Riversdal waar sy nege jaar lank Engels gee. Sy speel tennis en pluimbal en is geesdriftig betrokke by die dorp se spelleesvereniging. Sy komponeer die musiek vir die skool se skoollied (woorde deur Guilluame Marais). Toe haar seun hoërskool ouderdom bereik, en kies om Paul Roos toe te gaan, aanvaar sy 'n pos aan die Hoërskool Tygerberg, Parow.

Opvoerings

In die vier jaar wat sy daar betrokke is, werk sy aan verskeie opvoerings, omdat sy onwrikbaar glo dat deelname aan 'n opvoering so baie vir die vorming van 'n leerling beteken. Hoogtepunt was die aanbieding van Oliver, waaraan by die 90 kinders deelneem.

Op die aand na die laaste opvoering ry 'n bakkie in haar vas en doen sy 'n dubbele nekslag op – wat vir goed die einde vir haar tennisspelery beteken het. Die positiewe hiervan op die lang duur was dat dit vir haar tyd toegelaat het vir haar ander belangstellings.

In 1975 doen sy Hons BA (Engels) op Stellenbosch, waarna sy 'n pos aan die Hoërskool Jan van Riebeeck aanvaar. Hier voer sy The Importance of Being Earnest op en speel self 'n rol teenoor Limpie Basson in die skool se Pieter Dirk Uys opdragstuk Skote, deel van die skool se eeufeesviering. Sy help op uitnodiging die Hoërskool Groote Schuur met regie vir hul opvoering van She Stoops to Conquer en in 1979 onderneem sy met groot sukses die regie van Showboat vir die destydse Kaapse Tegnikon. In 1980 rig sy vir die Hoërskool Jan van Riebeeck Bloeiseltyd aan (haar vertaling van Lilactime, die liriese musiekblyspel met Schubert-lieder).

In 1981 word sy gevra om vir die provinsie se republiekfeesviering twee dansprogramme aan te bied –'n 20-minute program vir die openingsplegtigheid op die Kaapse parade, en ‘n uurlange program vir die Afsluitingsplegtigheid op die Goodwoodse skouterrein. Hier tree 270 dansers op. Sy behartig ook die beligting, nie alleen vir die dansprogram nie, maar ook vir die weermag se afsluitingsprogram! Intussen behaal sy buitemuurs 'n B.Ed. aan die Universiteit Kaapstad.

In Junie 1981 aanvaar sy die pos van dosent vir Engels in die Departement Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch, waar sy o.a.die graad M.Ed met lof behaal. Hier doseer sy Engels tot haar aftrede in 1995. Gedurende hierdie jare help sy haar moeder se niggie, Annie Hofmeyr (wat gekeer het dat die meulsloot wat deur Stellenbosch loop, met beton bedek word) met haar navorsing vir twee van haar boeke: Die Laan en sy Mense en My Hofmeyr- en de Vos Familie, en dien sy vir ses jaar in die bestuur van die Stellenbosse Heemkring. Dit versterk haar gevoel vir die belangrikheid van die behoud van die kleingeskiedenis van 'n gemeenskap.

Bewaring van die beboude en natuurlike omgewing

'n Vroeë bydrae op hierdie gebied was die aansienlike bedrag wat sy in Kaapstad ingesamel het vir die behoud van die wesfasade van Kerkplein, Pretoria.

Ook is ernstig meegemaak aan die Red St. Lucia se kusduinekampanje.

Intussen, in 1985, is sy medestigter van die Stilbaai-bewaringstrust, 'n omgewingsliggaam gestig om onvanpaste ontwikkelinge op die dorpie teen te staan. Die onmiddellike aanleiding tot die stigting van die vereniging was die plasing van 'n waterglybaan dwars in die riviermond op die sandtong. Dit het sewe jaar se navorsing en vertoë gekos om die struktuur van die sandtong verwyder te kry.

Die eerste bewaringsaksie was die verwydering deur vrywilligers van indringerplante wat die kort voorheen gestigte Pauline Bohnen-natuurreservaat aan’t oorgroei was. In 1986 slaag sy daarin om 'n kontrak met die Departement Mannekrag, onder hul werkskeppingsprogram, aan te gaan, wat fondse verskaf het vir ‘n span werkers wat vir die volgende sewe jaar die reservaat stelselmatig skoongekap het. Vir bewusmaking van die natuur stel die Trust begeleide staptogte in: na Jongensfontein, deur die Geelkrans-bosreservaat en deur die Pauline Bohnen natuurreservaat.

Benewens die Trust se omgewingswerk, keer dit dat die oorspronklike vakansiehuisie van die landskapskilder Jan Volschenk op die wesoewer van die rivier platgestoot word en is grootliks betrokke by die restourasie van die middel 19de-eeuse Jagersbosch-opstal – vandag Stilbaai se dienssentrum vir senior burgers. Ook is twee pioniershuisies wat andersins gesloop sou word, deur die Trust, en veral van sy individuele lede, met verlof van Erfenis Weskaap afgebreek en plaat vir plaat en balk vir balk verskuif na 'n terrein langs die Jagersbosch-opstal, en sorgsaam herbou.

Die Trust spog ook met die herskepping van die "schoolkamer" aan die noordekant van die Palinggat-opstal, in 1814 na 'n brand herbou, tot sy oorspronklike funksie as klaskamer vir die omliggende plaaskinders. Dit dien verder ook as museum vir die nege plaasskooltjies wat tussen 1905 en 1940 binne 'n 20 myl radius van Stilbaai bestaan het.

Die herhaalde aanslae op die integriteit van Stilbaai se klein Morrispunt-skiereiland is tot dusver afgeweer, maar die bekommernis duur voort omdat die Hessequa-munisipaliteit, in sy konsep Ruimteike Ontwikkelingsraamwerk (ROR), die oostelike gedeelte van Morrispunt aan “toekomstige toerismedoeleindes” wil toebedeel.

In Kaapstad hanteer sy tussen 2002/4 met geld van die provinsie en verkry 'n voedseltuineprojek by verenigings op die Kaapse Vlakte, en konsentreer veral op die aanlê van wurmplase om die grond te verryk.

Publikasies

In haar jare op Stellenbosch het sy heelwat publikasies vir die Trust die lig laat sien. Hieronder tel

  • die twee hardeband blomboeke deur Pauline Bohnen: Blomplante van Suid-Kaapland, en Nog Blomplante van Suid-Kaapland, wat sy vir publikasie versorg het en die fondse vir hul publikasie bekom het.
  • Die Volschenks: Drie Geslagte Kunsskilders, (1992) in hardeband, asook
  • persklaarmaak van omgewingsgidse oor die skulpe en voëls van die Stilbaai-omgewing,
  • Twee boekies, Stilbaai se Steentydperk, en Stilbaai se Slawekuns (oor ‘n beeldjie wat in ‘n grotjie Stilbaai vermoedelik deur ‘n wegloperslaaf uit die sandklipwand gekerf is), al drie deur kol. Dirk Stoffberg
  • Die vertaling in Engels van Helene Steyn se boek Stilbaai.

Toekennings

Persoonlike toekennings

  • 1988 The Cape Times Centenary Medal for environmental conservation
  • 1998 Cape Tercentenary Award for Excellence
  • 2002 EJNF Quarterly Award for outstanding contribution to the Environmental Justice Sector
  • 2002 Wildlife and Environment Society of SA Gold Medal for outstanding service to conservation
  • 2008 Twee bekers van die Hessequa Munisipaliteit ter erkenning van ‘n bydrae tot bewaring in Stilbaai.
  • 2015 Medalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Toekennings aan die Stilbaai-bewaringstrust:

  • 1990 CAPTRUST Award for Environmental Conservation
  • 1991 EPPIC Award for Environmental Conservation.

Habitatraad

In 1995 word sy Uitvoerende Beampte van die Habitatraad, ‘n oorkoepelende vereniging van omgewingsorganisasies op landwye vlak - die kapasiteit waarin sy steeds werk.

Die vereniging het ‘n aansienlike bygedra gelewer tot die skep van die reservaat vir die bewaring van die Brenton blou vlinder, en het steun gegee aan van die groot kwessies soos die padbouplanne en voorgenome mynbedrywighere langs die Wildekus. Die groot nasionale kwessies – die toestaan van mynlisensies ongeag die bevindings van omgewingsimpakte, die onverantwoordelike hantering van die problem van suur mynwater, die besoedeling van ons waterbronne, die voorgenome ‘fracking’ van die Karoo, en die nie-nakoming van wetlike voorskrifte lei tot ‘n gevoel van totale magteloosheid – waaraan daar egter nie toegegee kan word nie.

Kaapse Omgewingstrust (CAPTRUST)

Sy dien ook die afgelope 7 jaar op die Uitvoerende Bestuur van die Kaapse Omgewingstrust, wat die bewaring van die beboude en natuurlike omgewing ten doel het.

Sy word in 1992 deur die Deutsche Naturkreis na Bonn genooi as verteenwoordiger van een van sewe lande wat genooi is, om verslag te kom doen oor die mate waarin SA die doelstellings van 1972 Rio-verdrag nastreef.

In 2002 is sy afgevaardig na die stigtersvergadering van die suidelike tak van GAIA (Global Association for Incineration Alternatives) in Nairobi, waar sy ‘n referaaat lewer. Bemoeienis met konsepwetgewing oor die omgewing

Die Habitatraad stel hom dit veral ten doel om insette te maak oor konsepwetgewing wat die omgewing raak.

Reeds in die tydperk voor 1999 is bv. insette gelewer in die Erfeniswetgewing, wat vorm gekry het in die SA Erfenis–hulpbron wet.

In 1996 werk sy tesame met Peter Willis en Liz McDaid vir drie weke solied saam met die Staande Komitee vir die Omgewing in die parlement aan wat vorm sou vind as “NEMA” , die Nasionale Omgewingsbestuurwet (Wet 107 van 1998). (Sy en Peter Wllis – word in die parlement vermeld as “Honorary members of Parliament”).

Oor al die verwante omgewingswette wat gevolg het (oor lugkwaliteit, water, afvalbestuur, biodiversiteit en beskermde gebiede en Regulasies, veral die oor Omgewingsimpak-bepaling en wetswysings-amendamente), is insette gemaak en ernstige kritiek gelewer oor die voortdurende afwatering van ons omgewingswetgewing.

'n Ernstige bron tot kommer is die Minerale en Petroleum Hulpbronne –wet, waarvolgens bv. onwettige mynbedrywighere post hoc deur die Minister van Minerale en Energiesake gewettig kan word, MAAR wat die regering doelbewus nie promulgeer nie omdat 18 maande na promulgasie die mag om appèlle te besleg van die Minister van Mineraal en Energiesake na die Minister van Omgewingsake oorskuif.

Jongste bemoeienisse

Die Habitatraad het as Tweede Aansoeker toegetree tot die saak teen die oprigting— van ‘n tweeverdiepingkantoorblok binne die Wêreld-Erfenisgebied by Chapman’s Piek. Ook is ons al meer as sewe jaar betrokke by die poging om die owerhede so ver te kry om die beskermende wetgewing wat wel bestaan aan te wend om die ver-suidelike gedeelte van die Skiereilandse bergketting (wat reeds in 1986 wetlik beskerm is as Natuurgebied, en nou deel uitmaak van die geproklameerde Wêreld-erfenis gebied) van kommersialisering te vrywaar.

En dan beywer ons ons vir die verklaring van die 19de eeuse strandhuisie, Highclere, opgerig vir die belangrike onderwysman, Sir Langham Dale, vir 23 Jaar Superintendent-Generaal van die Kaap Kolonie tussen 1859 en 1881. Die huisie is volkboukundig van groot belang, synde die laaste in sy oorspronklike vorm in Blouberg van ‘n platdak huisie gebou van seeklip en “skulpkalk”. Dit was bewoon en stewig tot 1990, toe die huidige eienaar dit gekoop het en bewustelik laat verval het, en reeds sewe slopingsaansoeke ingedien het - om ekstra parkeerruimte te verskaf. Tesame met elke weiering is Erfenis Weskaap aangesê om die huisie tot Provinsiale erfenisterrein te verklaar – wat nooit gedoen is nie.

Na ‘n ministeriele tribunal bevind het dat Highclere nie gesloop moet word nie, is ‘n petisie geloods om Erfenis Weskaap te beweeg om HIERDIE keer werk te maak van provisionele verklarin. Maar onverklaarbaar het hulle meegewerk om te keer dat die Tribunaal se opdrag uitgevoer word. Nou sal die saak in die hooggeregshof beslis moet word.

Ten slotte, ons jarelange pogings om te keer dat ‘n onvanpaste kantoorblok op die dak van die pakskuur gebou word, moet nou ook na die hooggeregshof vir beslissing.

Nadat my seun verlede jaar voortydig op 53-jarige leeftyd oorlede is, put ek troos en vreugde uit my twee kleinkinders, Michelle en Francois Roux.