VOC Lesing oor Historiese Waterbronne


2019-08-12

Martiens van Bart het op 10 Augustus 2019 sy lesing "Waterbronne van die Kaap die Goeie Hoop" aangebied by Huis der Nederlanden, Pinelands.

Hier volg die inhoud van die lesing:

Toe Jan van Riebeeck in April 1652 per skip in Tafelbaai aankom om 'n halfweg-verversingstasie vir die VOC se handelskeepsverkeer tussen Nederland en Batavia aan te lê, was hy reeds goed ingelig oor die tipografiese uitleg van die Kaapse omgewing om sy gewigtige taak te kan vervul. Van een belangrike feit was hy verseker: Daar is volop skoon, soet drinkwater wat standhoudend uit die Tafelbergreeks vir menslike gebruik beskikbaar is.

Vandag weet ons dat daar minstens 69 sterk fonteine in die Tafelberg Natuurpark (Tafelbergreeks) is. Net die volume water wat jaarliks van Tafelberg self af standhoudend na die stadskom aan sy voet stroom, beloop meer as 10 miljoen kubieke liter skoon, soet drinkwater. Maar hierdie lewensbelangrike hulpbron word nie ontgin nie, en die water stroom ongehinderd met ondergrondse stormwaterkanale onderdeur Kaapstad na Tafelbaai.

VOOR JAN VAN RIEBEECK:

* Die eerste Europese seevaarder wat om die Kaap geseil het en vars water aan die Kaapse suidkus ingeskeep het, was die Portugees Bartolomeu Dias. Daar is, soos dit die gebruik was, skeepsjoernaal gehou, en die besonderhede van hierdie epiese seereis van 1488 neergeskryf. By Dias se terugkeer in Portugal het hierdie besonderhede van die tot nog toe onbekende suidelike deel van die vasteland Afrika soos 'n veldbrand deur die Europese handelsgemeenskap versprei. Haas elke seevaarder het die inligting, wat ook gekarteer is, bekom.

Die suidelike punt van Afrika het toe ook sy eerste Europese naam gekry - Cabo Tormentoso, die Kaap van Storms. Maar so opwindend was die nuus dat 'n seeweg om Afrika na die Ooste ontdek is, dat die naam spoedig verander is na Cabo de Bona Esperanza - Die Kaap van Goeie Hoop. En die eerste rivier aan die kus van suidelike Afrika waar vars water ingeskeep is, het dan ook die naam Rio do Infante gekry - genoem na Don Joao Infante, bevelvoerder van een van die twee karvele in Dias se vloot. En die baai waar hulle voor anker gelê het, is Aguada de Sao Bras genoem. Vandag staan dit bekend as Mosselbaai, en die rivier is die Boesmansrivier by Infanta.

* Nege jaar later, in 1497 , word vier Portugese karvele onder bevel van Vasco da Gama op dieselfde roete gestuur. Die vloot gooi anker by 'n baai aan die Kaapse Weskus wat hulle na die beskermheilige Santa Ellena (Sint Helena) noem. En verderaan kry hulle 'n rivier, wat die Santiago (na Sint Jacobus) genoem word. Die Nederlanders het dit later die Bergrivier genoem. Ook het Da Gama, soos Dias, nie Tafelbaai aangedoen nie, maar dit (waarskynlik Tafelberg) wel in die verbyvaart gesien. Alvaro Velho, die joernaalhouer, en hy het dit so aangeteken.

* In 1504 het die vloot van die Portugese seevaarder Antonio de Saldanha Tafelbaai binnegeseil en voor anker gaan lê. Vars water is hier ingeskeep, lui die skeepsjoernaal. Hulle het die baai Aguada de Saldanha, ter ere van hul bevelvoerder, genoem.Hierdie naam het daarna meer as 'n eeu lank op maritieme skeep skaarte gegeld totdat dit stelselmatig na Tafelbaai hernoem is. Die Weskus is mettertyd deur verskeie nasies verken, en omdat hulle bevind het dat dit bevolk is deur 'n Koina-stam wat hulself Saldanhars noem, het die gebied die naam Saldania of Saldanha gekry. Antonio was so beïndruk deur Tafelberg, dat hy dit "die Tafel van die Kaap die Goeie Hoop" genoem het. Van die kruin kon hy Valsbaai en 'n rivier in die ooste sien. Die Nederlanders het die rivier in 1671 die Breitenbachsrivier (na lt. C Breitenbach, karteerder) genoem, en dit tussen 1673 en 1705 hernoem na die Lourensrivier, na die gebied se poshouer, korp. Wessel Lourens. Dit staan steeds so bekend.

* In 1510 het die vloot van die Portugese edelman Francisco d'Almeida Tafelbaai aangedoen om vars water in te skeep. 'n Geveg breek tussen die matrose en die Koina uit, en D'Almeida sneuwel saam met 50 tot 65 van sy manskappe, waaronder 12 skeepskapteins, op die strand.

* Die vloot van vier skepe onder bevel van Cornelis de Houtman vaar in Augustus 1595 verby die Kaap en skeep vars water in by Mosselbaai, toe nog as Aguada de Sambras op maritieme kaarte aangedui.

* Drie jaar later, in 1598 , skryf John Davys , stuurman van De Houtman se skip Lioness, in die vloot van die private redery Moucheron, wat kanonne en ammunisie aan die State Generaal verskaf het, dat hulle in Tafelbaai (Bay of Saldania) anker gegooi het en vars water ingeskeep het. Daar was drie varswater-riviere.

* Die Engelse seevaarder Sir James Lancaster besoek Tafelbaai in 1601 met sy vloot van drie skepe. Davys was hoofstuurman van die vloot. Lancaster het bottels suurlemoensap aan boord gehad waarvan die motrose daagliks drie lepelsvol moes drink. Dit het nie die uitbreek van siektes onder hulle voorkom nie, maar dit wel vertraag. Oor die Kaap skryf hy: "The country is full of pleasant rivers".

* In 1605 besoek sir Edward Michelbourne Tafelbaai en vermeld: "It is most pleasant watered with wholesome springs, which have their beginning from the tops of exceeding high mountains, which fall into the valleys, make them fruitful."

* In 1608 beskryf die Britse matroos John Jourdain die Soutrivier, waar vis gevang is, en ook die Rietvlei. Die water is "fresh, good, proceeding from divers springs, which cometh from the mountaynes."

* In 1620 vermeld die Britse matroos William Hore dat agt van sy makkers wat by die Soutrivier gaan visvang het, deur die Koina vermoor is.

Op 15 Maart 1620 skryf die Franse matroos Augustin de Beaulieu : "Aan die westekant van die berge (Tafelberg-reeks) is verskeie fonteine van baie helder en goeie water, soos die wat van Tafelberg af vloei.

Hy beskryf oor die Soutrivier en die Rietvlei-strandmeer.

* Peter Mundy , matroos in die Swanley-vloot, beskryf in 1634 die mistige "tafeldoek" van Tafelberg "continuall distillinge water". Ietwat poeties skryf hy: "In one of the rivuletts that we passed was a huge smooth declining rock over which the water glided, waxed, retorted and purled; very pleasant to see too." Hy verwys na die Platteklip-stroom. This hill (Tafelberg) is much nominated by seamen.Mundy maak toe ook 'n skets van Tafelberg, die bergstroom - "a prettie brook which cometh from the said openinge and runneth by the tent, where sick men lay ashore."

* In 1639 vertel Johan Albrecht von Mandeslo van Holstein in sy reisbeskrywing Gedenkwaerdige Reyse : tydens sy besoek aan Tafelbaai en Tafelberg sien hy "'n Mooi, helder en taamlik groot rivier wat in die baai uitmond, met gesonde water wat ook mooi en voedsame vis oplewer."

* In 1648 besoek die direkteur-generaal van die Franse Oos-Indiese Kompanjie, Etienne de Flacourt , Saldanhabaai. Sy vloot gooi anker in Rietbaai. Hulle soek vars water en vind 'n fontein aan die voet van 'n heuwel na aan die strand. Die water ontspring helder en skoon vanuit die rotse, sowat 3 tot 4 m bo seespieël, en val dan in 'n watergat wat geen uitvloei het nie. Dit is 'n opvangplek vir reënwater en die dou wat op die rotse kondenseer. Die water is besonder goed, maar die matrose moes eers die watergat skoonmaak voordat water ingeskeep kon word, want die mis van die wilde diere wat daar drink, besoedel die watergat.

* Op 25 Maart 1647 strand die VOC-skip Nieuw Haerlem aan Tafelbaai se strand (waar Milnerton vandag is.) Die ander twee skepe in die vloot van Jeremias van Vliet, Olifant en Schiedam, was ongedeerd. Laasgenoemdes neem soveel matrose van die skip Nieuw Haerlem as hul kan akkommodeer aan boord, maar 59 opvarendes moet wag totdat die retoervloot onder bevel van admiraal W. Geleynsen de Jongh van Batavia onderweg na Nederland hulle later sal oppik. Die agtergeblewenes moes tot dag en datum 'n volle jaar op die retoervloot wag.

Leendert Jansz(en), 'n junior koopman, is in bevel van die skipbreukelinge aangewys. Hulle bou 'n vesting van duinesand, die eerste aan die Kaap, en noem dit Fort Zandenburgh. Hulle oorleef wonderbaarlik en kom goed met die inheemse Koina oor die weg. So kon hulle dan ook die gebied en sy natuurlike hulpbronne, soos water, goed verken, en ook inligting oor die plante en diere inwin.

By Janszen se terugkeer in Amsterdam ontvang hy 400 gulden uit agting en as beloning.

Jan van Riebeeck was aan boord een van die skepe in hierdie retoervloot onderweg an Amsterdam. Hy kry dus geleentheid om die Kaap die Goeie Hoop van naderby te sien en voet aan wal te sit toe die skipbreukelinge in Maart 1648 opgepik is.

Matthijs Proot, onderkoopman wat by die retoervloot was, kry opdrag om saam met Janszen 'n verslag vir die Here XVII op te stel vir die fortifikasie van die Kaap die Goeie Hooop en die stigting van 'n verversingspos. Die verslag staan bekend as die Remonstrantie van 1649. Dit word op 26 Julie 1649 aan die direkteure van die VOC voorgelê, wat dit op 22 Augustus 1650 goedkeur. Op die Groote Vergadering van die State-Generaal in 1651 word toestemming verleen dat hierdie halfweg-verversingstasie aan die Kaap gevestig word met Jan van Riebeeck as kommandeur.

In die Remonstrantie beveel Janszen en Proot aan dat 'n waterpypleiding vanaf die Verserivier na die strand aangelê word sodat skepe maklik hul watervate kan vul. Jan van Riebeeck het daarmee begin, en die projek is deur sy opvolger, Zacharias Wagenaer, voltooi. Dit staan bekend as Wagenaer se Dam. Die oorblyfsels daarvan is vandag in die Sanlam Goue Akker Sentrum agter glas te sien.

Uit eie waarneming in 1648, uit die verslag van Janzen & Proot, en uit verslae van Nederlandse handelsvlote wat al so vroeg as 1620 by Tafelbaai aangedoen om vars water in te skeep, was Van Riebeeck deeglik ingelig oor die standhoudende varswater-riviere wat van die hang van Tafelberg na die strandgebied gevloei het. Hy noem aanvanklik die grootste stroom die Soete Rivier, soms ook die Varsch Rivier in Het Daghregister. Later verwys hy egter na die Liesbeek as die Soete Rivier.

Sonder vars drinkwater vir die mense en leiwater vir die beoogde groentetuine sou geen nedersetting moontlik wees nie. En toe Van Riebeeck ook vir hul beskerming die Fort De Goede Hoop beplan, was die ligging daarvan naas die Varsch Rivier van strategiese belang: Die rivierwater sou in 'n grag rondom die fort gekanaliseer word vir bykomende beveiliging van die vesting.

En toe die kommandeur later die Kaapse omgewing begin verken na hulpbronne, was die beskikbaarheid van water van kardinale belang.Hy teken aan dat hul aankoms in April in die droë seisoen was, en beskryf hoe talle rivierlope droog was. Maar daar was nogtans oorgenoeg standhoudende riviere wat van Tafdelberg na benede gestroom het, wat die vestiging van die VOC-nedersetting aan dieKaap die Goeie Hoop 'n volstrekte moontlikheid gemaak het.

Projek Herwin Camissa 2011

Die ontwikkeling van die Tafelbergreeks se varswaterbronne

In 2011 het 'n groep besorgdes van die Cape Town Partnership 'n ondersoek na die beskikbare varswaterbronne in Kaapstad se Tafelbergreeks en elders in die Wes-Kaap gedoen en voorstelle hoe om dit te ontwikkel op skrif gestel as 'n bydra tot die ontwikkeling van waterbeskikbaarheid en waterbenutting - wat 'n besparing van miljoene rande vir Wes-Kaapse belastingbetalers sou meebring. Hierdie wetenskaplike ondersoek is aan die Kaapse Stadsraad voorgelê. Tot vandag toe het daar absoluut niks van gekom nie. Uit die ondersoek wat deur die vakkundige Caron von Zeil gedoen is, het die volgende feite geblyk:

* Meer as 6 miljoen kubieke meter vars water kan daagliks van die Oranjezicht-fonteine - daar is minstens 5 sterk fonteine - opgevang en aan Kaapstad voorsien word. Die grootste fontein in Oranjezicht - op die plek waar die Van Breda-familie se opstal gestaan het, dit het bekend gestaan as Die Stadsfontein, lewer 2,77 miljoen kubieke liter water per dag. Die ontginning daarvan sal 'n besparing van R16,6 miljoen per jaar meebring (teen 2011 se tariewe bereken). Hierdie water vloei egter steeds ongehinderd en ongebruik deur die stormwaterkanale na Tafelbaai.

* Vars drinkwater wat verkry kan word van sterk fonteine op die landgoedere Leeuwenhof , ampsetel van die Wes-Kaapse premier, en die aangrensende Waterhof , eiendom van Naspers se hoof, Koos Bekker, het luidens verslae van 1897 meer as 811 miljoen kubieke gelling (imperiaal) gelewer. Dit is 3 650 miljoen kubieke liter water per jaar. Tel daarby die 6 miljoen kubieke liter water van die Stadsfontein in Oranjezicht, dan is die totaal nagenoeg 10 miljoen kubieke liter water per jaar.

Hierdie bronne lewer standhoudend dieselfde volume water elke jaar.

RESERVOIRS EN DAMME

Putte is op die woonpersele van baie wonings in Kaapstad gegrawe om water te voorsien. Die Groentemarkplein en die Boerenplein (Van Riebeckplein) het groot putte met standhoudende water aan die publiek gebied - ook vir die osse wat boere se waens met groente en ander produkte van die omliggende plase na die stad getrek het.

Die eerste dam wat aan die hang van Tafelberg gebou is, is die Stadsfontein wat in 1686 op die plaas Oranje Zicht gebou is om water aan die Kasteel te verskaf. Die water, verkry uit twee sterk fonteine, is met houtpype weggelei.

In 1769 het Kaapstad self ook water uit hierdie bron begin kry. Dit is vermoedelik hierdie water wat Louis Michel Thibault ook na die Parade herlei het om sy monumentale fontein mee te voed. Kapenaars het daagliks water vir die huishouding daar laat haal - gewoonlik die werk van slawe.

In 1813 is die Oranje Zicht reservoir toegebou met 'n tombe-agtige koepeldakstruktuur -wat steeds op die plek te sien is waar die Oranje Zicht opstal was. Dit is nou 'n omheinde park.

In 1853 is nog 'n reservoir laer af teen die berghang gebou om ook drie ander fonteine op Oranje Zicht landgoed op te vang en die water aan Kaapstad te verskaf. Mettertyd is die water van al twaalf fonteine op Oranje Zicht opgevang en met steengeboude watertonnels na benede herlei. Die Hurling-swaaipomp in Prince Straat was nog 'n openbare bedieningspunt.

Teen 1897 is ook die sterk en standhoudende water uit fonteine op Waterhof en Leeuwenhof vir Kaapstad geoes. Dit het minstens 2 650 kubieke liter water per jaar gelewer.

In 1811 is 'n reservoir groter as 'n olimpiese standaard swambad in Hofstraat vir hierdie water gebou. Dit is 'n eeu later gesloop.

In 1814 is gietysterpype in gebruik geneem om water na Kaapstad te herlei.

Teen 1868 het waterpype 26 myl deur Kaapstad gestrek om water aan huishoudings te verskaf.

In 1887 is begin met die maak van die Woodhead - tonnel van byna 1 km om water van die 32 fonteine van Tafelberg byeen te bring en na die Molteno-opgaardam te herlei.

In 1895 is die eerste kragstasie by die Molteno-dam gebou wat Kaapstad van elektrisiteit voorsien het.

In 1921 is die Steenbrasdam in die Hottentots-Hollandberge gebou om water aan Somerset-Wes, Strand en aan Kaapstad en sy voorstede te lewer. Nou is daar nie meer water van Tafelberg geoes nie.

In 1948 is die Voëlvleidam by Gouda naby Ceres gebou om water van die Klein-Bergrivier op te vang en onder meer ook aan Kaapstad te lewer.

In 1957 is die Wemmershoekdam in die Overberg gebou om die Groote-Bergrivier se water op te vang en onder meer na Kaapstad te herlei.

In 1972 is die Theewaterskloof by Villiersdorp gebou om water uit verskeie Overbergse riviere te versamel. Hierdie water is hoofsaaklik vir die landbou bedoel, Kaar Kaapstad het ook water hieruit verkry. Dit is egter nie die Kaap se vernaamste waterbron nie.

WATER VIR TAFELBAAI

Tans loop meer as 10 miljoen kubieke liter Tafelberg-water per jaar ongehinderd met die stormwaterpypleiding na Tafelbaai. Nog vele miljoene kubieke liter water stroom teen die oosterhelling van Tafelberg bo Nuweland, Kirstenbosch Constantia en die ander gebergtes na die Liesbeek, die Swartrivier en na Valsbaai. Niks word gedoen om dit vir die Wes-Kaapse inwoners te versamel, te suiwer en verskaf nie. Die SA Bierbrouery in Nuweland gebruik wel van sterk fonteinwater vir sy fabriek.

Desnieteenstaande die beskikbaarheid van hierdie standhoudende, sterk waterbronne, het die pas afgetrede Wes-Kaapse premier, Hellen Zille, tot onlangs toe nog die inwoner van Leeuwenhof, verlede jaar 'n "Day Zero"-waterkrisis vir die Kaapse Metropool en omstreke afgekondig. Haar regering en die Kaapse Stadsraad het maande lank derduisende rande bestee aan duur media-advertensies (selfs ook op platskerm-TV's in tandarts- en doktersspreekkamers) en selfs 'n helikoper, wat gehuur is om met 'n banier oor die Metropool te vlieg en "DAY ZERO" te verkondig.

Luidens koerantberigte het Zille voorts ook agter geslote deure samesprekings met die hooggeplaasdes van die SA Polisiediens en die SA Weermag gevoer oor hoe om die publiek te miltêr te beheer wanneer die duisende Kapenaars daagliks gerantsoeneerde drinkwater by strategiese versamelpunte sou moes afhaal.

Hierdie scenario het herinner aan die massa-konsentrasiekampstrategie van die Britse militêre in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Dit het die belastingbetalende publiek, veral bejaardes en gestremde, vreesbevange, desperaat en uitermate gestres gelaat.

In die lig van groot vraagtekens wat kundiges oor die sogenaamde droogte plaas, en die skreiende versuim van die provinsie en die stadsraad om watervoorsieningsprobleme betyds te voorkom, en ook hul versuim om hoegenaamd enigiets positiefs aan die sogenaamde dreigende "waterkrisis" te doen, laat hierdie soort paniek-stokery inderdaad na 'n vorm van sielkundige terreur lyk wat histories eie is aan Kommunistiese skrikbewinde.

GROOT GELDMAAKGELEENTHEID

Alan Winde, huidige leier van die Wes-Kaapse DA-Alliansie en verlede jaar provinsiale minister van ekonomiese geleenthede, het verlede jaar in 'n onderhoud met die Cape Argus gesê 'n multi-biljoen rand industrie het uit die 2018 waterkrisis ontstaan. Sakeondernemings moet hierdie geleentheid nou aangryp om die ekonomie te laat groei en werk te skep, het hy luidens die Argus gesê.

Hy het na die organisasie GreenCape se lys geldmaakgeleenthede voortspruitend uit die "waterkrisis" verwys as 'n waardevolle bydra tot die ekonomie. Die potensiaal hiervoor in Kaapstad alleen is meer as R2 biljoen, het Winde gesê. Uit boorgate en watertenks op private eiendomme kan sakelui minstens R5,8 biljoen genereer, het hy voorgestel.

Kort voordat die sogenaamde "droogte-krisis" en "Day Zero" deur die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad afgekondig is, het die Oppenheimer Familie Trust - asof heldersienend - verskeie groot watertenkvervaardigers en ander waterverwante bedrywe landswyd uitgekoop. Toe die "Day Zero-krisis" deur Zille en De Lille afgekondig word, het die Oppenheimers klaar gereed en gerat gestaan om ook hierdie Suid-Afrikaanse goudmyn te ontgin. Was hierdie tydberekening blote spekulasie-geluk?

Luidens 'n artikel in Financial Mail van 24-30 Januarie 2019 verkoop die Oppenheimers sedert die "waterkrisis" deur 'n oorywerige media uitgebasuin is, meer as 1000 JoJo-watertenks per dag. Meer as 2 miljoen tenks is binne 'n paar mande landswyd verkoop. Minstens 10 miljoen tot 14 miljoen huishoudings in Suid-Afrika het hierdie reënwatertenks en ander watertoerusting aangeskaf sedert die Oppenheimers tot die waterindustrie toegetree het. Die trust het nege fabrieke opgerig om die JoJo tenks te vervaardig.

"The demand exploded when Cape Town's crisis hit last year (2018)", het die trust se woordvoerder jubelend aan Financial Mail verklaar. Twee van die fabrieke - op Worcester en Uitenhage - het in die stormloop-tydperk elk 2 500 tenks per dag vervaardig, en dit was nie voldoende om in die Wes-Kaapse vraag te voorsien nie. Tenks moes toe van elders - so ver as Groblersdal - teen hoë koste aangery word.

Gedurende 2018 is enorme watertariefstygings, streng waterbeperkings gepaardgaande met swaar boetes en verpligte beperkende watermeters (wat "oortreders" ten duurste moet aankoop, is deur die Kaapse munisipaliteit ingestel om die Kaapse belastingbetalers nog verder te teister. Die Stad Kaapstad was nou aktief betrokke by die massale waterverkoopsbedryf om soveel munt as moontlik daaruit te slaan.

In die Wes-Kaap het Zille en De Lille midde-in die "water-krisis" groot gewag gemaak van die Wes-Kaapse DA-Alliansie-regering se "mensliewende welsynsprojek" om gratis water en gratis elektrisiteit aan miljoene township-inwoners en buurstaat-instromelinge in die talle vinniggroeiende, uitgebreide plakkerkampe rondom Kaapstad te verskaf. Vanselfsprekend is die geld van die belastingbetalers gebruik om hierdie "welsynsprojek" mee te befonds. Luidens persberigte is daar aanduidings dat die Stad Kaapstad sy boekhouding aangepas het om hierdie befondsing te verdoesel.

Terselfdertyd het die DA-Alliansie met 'n intensiewe propagandaprogram begin om swart stemme op die vooraand van algemene verkiesing van 2019 te werf. Die stemgeregtigdes in die townships en plakkerskampe het dus baie te verloor gehad indien die DA die verkiesing teen die ANC of enige ander politieke party sou verloor.

Die DA-Alliansie het gewis nie die stemme van die klein minderheid blankes en gekleurdes hiervoor nodig gehad nie - net hul belastinggeld.

Toe die bekende jaarlikse Argus-fietstoer kort voor die "DayZero-krisisdag" aanbreek en die organiseerders die byeenkoms in Kaapstad - wat deur derduisende fietsrygeesdriftiges vanoor die hele land en ook die buiteland bygewoon word - wou afstel oor die "drastiese tekort aan drink- en was-water", het die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad omgeswaai: Die Day Zero-krisisdag word dadelik met 'n paar maande uitgestel, en boonop verkaar hulle toe ook dat daar darem nog voldoende water vir die besoekers ook beskikbaar sou wees.

Sedertdien is daar betreklik onlangs 'n watervoorsieningskrisis in die Witwatersrand afgekondig, aangesien die Vaaldam en ander varswaterreservoirs daar glo sodanig met riool besmet is dat die water nie gesuiwer kan word nie.

Dit is baie interessant dat die Ierse regering 'n paar jaar gelede 'n kunsmatige "droogte en watertekort" op die Iere wou afdwing. Die Iere het in hul duisende saamgestaan en Dublin bestorm. Die dae lange betogings het soos 'n golf oor die land gestroom. Dit het begin lyk of die Iere die eerste keer in hul geskiedenis 'n gemeenskaplike doel gehad het om voor saam te staan. Die regering het teruggedeins vir hierdie solidariteit en die "droogte-krisis" het soos mis voor die son verdwyn.

Die ou Britse wenresep van Divide and Rule het steeds swaarder getel as 'n gemene slenter om 'n vinnige pond uit goedgelowiges te munt.

Martiens van Bart en voorsitter Dr. C. de Wet.
Martiens van Bart en voorsitter Dr. C. de Wet.