Poshouer Deneys se Grafsteen


2001

Boekhouer, later onderkoopman Adriaan Deneys was die tweede poshouer by die VOC se buitepos in die winterhawe Simonsbaai. Hy is in 1751 aangestel en is in 1761 op die buitepos oorlede. Sy graf is langs die see.

Tydens bouwerk in daardie omgewing is die steen op sy graf na die dorpskerkhof verskuif. Lede van die Stigting VOC het in die 1990's die steen in die ou kerkhof in Simonsstad gevind, waar dit regop geplant was. Die munisipaliteit gewaarsku dat dit nie 'n kopsteen nie maar 'n deksteen is, en dus plat moet lê.

Kort daarna het dit omgeval en in drie stukke gebreek. Die Simonstadse Museum is genader om dit in bewaring te neem. Een van hulle bestuurskomitee was 'n hoë vlootoffisier, en die SA Vloot (Adm. J. Louw) het vervoer en arbeid verskaf om dit na die museum te bring en op 'n voorbereide bed regs van die museum se trappe te plaas.

Die inskripsie lui:

Ter Gedagtenis van

De

Heer Adriaan de Nys

In Zyne Leeven Onder

Coop Man

En Hooft Van de

Baay Fals

Geboren Den 27 Sep 1711

En Over Leeden

Den 1 Maart Ano 1761

Poshouer Deneys was die stamvader van dié familie in Suid-Afrika. Die steen is van uitheemse rots gemaak en het moontlik as ballast op 'n VOC-skip aangekom.

Lees meer oor die buitepos Simonsbaai:

D. Sleigh: Die Buiteposte, pp. 295-336.

Foto's: C. Salter-Jansen.