Inligtingsbord by Nitida-kanonstelling


2021

Die Nitida-wynplaas het die Stigting genader om hul inligtingsbord korrek te vertaal van Engels in Afrikaans.

Die vertaalde teks volg hiernaas. Die oorpsronklike teks kan op die foto gesien word.

Meer inligting oor die kanonstelling kan verkry word deur navrae te rig aan [email protected] of die webwerf te besoek: https://www.nitidacannonstation.co.za.


Gereedskap vir 'n Voorlaaierkanon Om 'n voorlaaierkanon te rig, laai, vuur en onderhou het kanonniers 'n verskeidenheid van gereedskap gebruik.

Die Krasser is 'n vurk met gedraaide tande van koper of geelkoper voor aan 'n stok, wat in die loop gesteek is om 'n kruitsak uit te trek of oorblyfsels van 'n vorige skoot te verwyder.

Die Skop gemaak van koper of geelkoper is gebruik om die korrekte hoeveelheid kruit uit die vat te skep wanneer linne-kruitsakke nie beskikbaar was nie, en dit heel agter in die loop te plaas.

Die Lontstok met stadige lont is gebruik om vuur by die sundkruit te bring. Die lont is 'n losweg gedraaide driedraad henneptou, geweek in 'n mengsel van salpeter en alkohol en gedroog; dit is aan een kant van die lontstok met koper ringetjies in posisie gehou.

Die Deksel is 'n loodplaat wat die sundgat bedek om dit skoon en droog en ook die lading droog te hou, en te voorkom dat waaiende vonke per ongeluk die lading ontsteek.

Die Wisser voor op 'n stok is van skaapvel gemaak; voor daar gelaai word of na elke skoot is dit in water gedoop en in die loop af gestoot, om seker te maak dat geen gloeiende materiaal in die loop agter gebly het nie.

Die Laaistok met 'n silindriese kop van harde hout aan die een punt is gebruik om die kruitsak styf agter in die loop vas te druk.

Die Priem is 'n koper- of geelkoper draad met 'n skerp punt wat in die sundgat gesteek is om 'n gat in die kruitsak te maak, sodat die brandende sundkruit maklik by die lading in die kruitsak kan kom.

Die Kruithoring was vol fyn buskruit, die sogenaamde sundkruit, waarmee die sundgat gevul is.

Die Handspaak was 'n paal met een plat punt soos 'n spaan, wat as 'n hefboom gebruik is, soos om die kanon se agterstel te lig, wanneer die wig verskuif moes word om die tromp te lig of laat sak.

Die Wig is gebruik om, met behulp van 'n handspaak die kanon se agterstel te lig of laat sak.

Die Kruitemmer was van hout, bedek met leer en gevoer met linne, met handvatsels van leer. Soms is dit met kentekens versier.

Die Wateremmer met VOC-kenteken (Verenigde Oos-Indiese Compagnie.)