Martiens van Bart


2006

Eregaste, dames en here

Die bestuurskomitee het besluit om vanjaar twee toekennings van ons silwermedalje te maak, die een aan mnr Marthinus van Bart vanaand en die ander aan professor G.J. Schutte, wanneer hy die land aan die einde van die jaar besoek.

Mnr. Marthinus van Bart is in Johannesburg gebore, en het die grade B.A. aan die Randse Afrikaanse Universiteit en B.A. (Honneurs) en H.O.D. aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Hy het dertig jaar gelede by Nasionale Pers begin werk en is die afgelope jare redakteur van KultuurKroniek.

Terwyl hy eiendomsredakteur van Woongids was, met die taak om eiendomme en
woonhuise te adverteer, het hy sy blad meer gewild en interessant probeer maak deur
inligting oor die geskiedenis en bewaringspotensiaal van die geboue te publiseer. Hy moes ’n ryk aar en ’n groot kulturele behoefte raak geboor het, want die belangstelling van die publiek was spontaan. Dit is nou al meer as ’n dekade lank dat lesers uitsien na Die Burger se Saterdag-bylaes, waaronder KultuurKroniek, oor die interessante artikels deur bewaringsentoesiaste oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe wat daarin verskyn. Martiens van Bart se naam was gemaak; ons glo dat dit in sommige bewaringskringe huishoudelik geword het.

Terselfertyd het hy aktief betrokke geraak en die leiding geneem ten opsigte van restourasieprojekte. Sy kulturele CV lyk tans ongeveer so: Lid van die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap. ondervoorsitter van die Hugenote Gedenkskool, Daljosafat se trusteeraad, ondervoorsitter van die Stephen’s Kerk, Kaapstad se trusteeraad, lid van die Anglo-Boereoorlog monument, die Paarl, se trusteeraad en lid van die premierswoning ‘Leeuwenhof ’se advieskomitee.

Die afgelope 15 jaar het ’n dankbare bewaringssgemeenskap hulle waardering aan hom betoon met die volgende toekennings:

  • Die Stigting Simon van der Stel se Goue Medalje vir Bewaringsjoernalistiek, 1991.
  • Die Kaapse Instituut vir Argitekte en Cape Times se Eeufees-medalje vir Bewaringsjoernalistiek, 1996.
  • Die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde en die ATKV se Erepenning vir Bewaringsjoernalistiek, 1999.
  • Die FAK se Toekenning vir Bewaringsjoernalistiek, 2001.
  • Die ATKV se Toekenning vir Kultuurjoernalistiek, 2000.
  • Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke se toekenning, met verwysing na die herdenking van die Tweede Anglo-Boereoorlog, 2002.
  • Die Bolandse Meesterbouersvereniging se erelidmaatskap, vir bewarings-
    joernalistiek, 2002.
  • “Arbeidsgenot” (Langenhoven-huis), Oudtshoorn se Erelidmaatskap, 2004.

Sy oorblywende ideal is om ’n selfstandige kultuurtydskrif vir Suid-Afrika tot stand te bring wat die bewaringsgedagtes van die volk reflekteer. Mag dit bewaarheid word. Ons almal voel die behoefte daaraan.

Namens die Suid-Afrikaanse bewaringsgemeenskap, en duisende Suid-Afrikaners wat weekliks deur sy tydskrif tot nadenke gestem word, bedank ons hom en wens hom voortgesette sukses toe. Ons bedank ook die bestuur van Media24, wat hom die geleentheid en die ruimte vir sy bewaringswerk gee.

Bogenoemde indrukwekkende vertoonkasvol toekennings kry vanaand nog een by.

Met spesifieke verwysing na sy vele artikels oor die VOC-tydperk in Suid-Afrika die afgelope dekade, sy artikelreeks oor slawerny in Suid-Afrika en sy aantreklike
spesiale uitgawes by die herdenking van die 400ste herdenking van die VOC in 2002 en die Slag van Blouberg in 2006, wat van entoesiasme, ondernemingsgees, deursettingsvermoë en professionele vaardigheid spreek en waarmee hy die Stigting VOC se oogmerke van Opvoeding, Bewaring en Kultuurtoerisme grootliks bevorder, word hierdie Stigting se silwermedalje aan mnr Marthinus van Bart toegeken vir bewaringsjoernalistiek.

Soos die skip op die medalje afgebeeld die gewese VOC se ondernemingsgees en suksesse simboliseer, reflekteer dié medalje Martiens se inisiatiewe en suksesse op sy vakgebied.

Fama semper vivat! Mag sy faam lewe!