Algemene Jaarvergadering 2022


2022-04-12

Hier volg die voorsitter se verslag:

Stigting VOC, Jaarverslag, 2021.

Die Stigting VOC het in 2021 weer ’n besonder suksesvolle jaar beleef. Die Covid-regulasies is tot so ’n mate verslap dat ons weer fisies kon vergader. Voorbereidings vir die 26ste Algemene Jaarvergadering is vroeg getref; die Finansieële State en Notule van die vorige AJV is vir ondersoek aan lede gestuur. Die AJV is op Saterdag, 10 April 2021 by SASNEV gehou. 17 lede was teenwoordig en met behulp van JITSI kon ander lede ook die vergadering bywoon. Twee nuwe komiteelede naamlik Dr Karen Jennings en Mnr Alex Giardini is by die geleentheid tot die komitee gekies. Die volledige komitee vir 2021 het bestaan uit Prof. Leon Hattingh, (Voorsitter), mnr Rudolf Rode (Sekretaris), mnr Calla Wessel (Finansies), Dr Dan Sleigh (Nuusbrief) mnr Jaco du Plessis (elektronika) Dr Karen Jennings (oorsese korrespondensie), mnr Alex Giardini (media) en mnr Piet Westra (korresponderende lid).

Daar is besluit om nie vanjaar die ledegeld te verhoog nie. Daar was in 2021 geen uitstappies of lesings nie; dit sal hopelik in 2022 hervat word. Ons was in gereelde kontak met VOC Kamer Antwerpen, maar het kontak met Camer die Haghe verloor. Vier nuusbriewe getitel Generale Missive is geplubliseer en onder ons lede versprei. Ons was gelukkig om gereelde bydraes van Prof. G. Groenewald, Dr M. Barter en Dr K. Jennings daarin te plaas. Kennisgewings is soos gewoonlik per Roeper bekend gemaak. Komiteevergaderings is kwartaalliks gehou, bywoning daarvan was beide fisies en elektronies. Van ons aktiwiteite gedurende 2021 sluit die volgende in:

  • Ons het die bewaringsargitek Dr N. Baumann geadviseer oor siglyne tussen die VOC-battery Kyk-in- de- pot (nou Fort Wynyard) en Robbeneiland, ten opsigte van ’n woonstelblok waaraan hy werk. Ons het hom ook in kennis gestel van foutiewe inligtingsborde by die Amsterdam Battery en aangebied om hom van korrekte inligting te voorsien. Daarvoor het hy ons hartlik bedank.
  • Genealogiese inligting is op navraag verskaf teen opsigte van die VOC-voorvaders Calitz en Van Huyssteen.
  • Inligting oor die VOC-bakensteen op Geelbeksfontein is verskaf aan Erfenis Wes-Kaap. (Ontvangs erken 25/1/2022.)
  • Aan die Kaapse Stadsraad (Erfenis-afdeling) is inligting voorsien vir inligtingsborde insake die buiteposte Kampsbaai en De Hel.
  • Komiteelid Jaco du Plessis het begin met ’n elektroniese kaart van die VOC se buiteposte.
  • Komiteelid Alex Giardini het tot dusver twee podcasts opgeneem oor verskillende VOC-onderwerpe.
  • Komiteelid Karen Jennings het kontak gemaak met die VOC-studiegroep in Australië. Dit sal hopelik uitgebrei word.
  • Ons Stigting het R5000 bygedra tot die hofonkoste van die groep wat beswaar maak teen Amazon se ontwikkelings tussen die Liesbeek en Swartriviere, wat ’n verklaarde erfenisterrein is. Dit is in die omgewing waar die Vryburgers in 1657 grond gegee is, en waar die buitepos Ruyterwacht II gestaan het. Ons kan ons nie vereenselwig met die Koina ‘geskiedenis’ wat deur die groep beswaardes in die hof voorgedra is nie. Die goeie nuus is dat die ontwikkeling onlangs gestaak is deur middel van ’n interdik wat deur die regter toegestaan is.
  • Die VOC-seinkanon op Paarlberg is na ’n nuwe plek verskuif en op ’n nuwe affuit geplaas.’n Groot aantal mense het op Erfenisdag die geleentheid bygewoon. Ons Stigting het R15 000 van die borg Van Ewijk Stigting bekom vir die projek, en inligting oor die seinstelsel vir drietalige inligtingsborde verskaf.
  • Ons gewone jaareindete is op 1 Desember 2021 by die Nitida restaurant gehou, waar ons ook afskeid geneem het van voorsitter Leon Hattingh, wat Bloemfontein toe verhuis het.
  • Op dieselfde dag is die Afrikaanse inligtingsbord insake kanongereedskap by die Nitida Kanonstelling onthul, waarvoor ons die inligting voorsien en R6000 (van die borg Van Ewijk Stigting verkry) tot die maak van die bord geskenk het. ’n Paar kanonskote is ook afgevuur.

By die eersvolgende komiteevergadering op 4 Desember het die lede vir my, Alex Giardini as waarnemernde voorsitter voorgestel, en ek het die pos aanvaar, tot hierdie AJV, waar die vaste voorsitter gekies sal word.

Ten slotte bedank ek SASNEV vir die gebruik van hul saal en ander fasiliteite, die komiteelede vir hul harde werk en entoesiasme en al ons getroue lede, oor die land versprei, vir hul belangstelling en steun vir ons werk.

Die komitee van 2021 v.l.n.r.: Rudolf Rode, Alex Giardini, Karen Jennings, Dan Sleigh, Jaco du Plessis. Afwesig: Calla Wessel
Die komitee van 2021 v.l.n.r.: Rudolf Rode, Alex Giardini, Karen Jennings, Dan Sleigh, Jaco du Plessis. Afwesig: Calla Wessel