Algemene Jaarvergadering 2023


2023-03-28 | Stigting VOC

Die Stigting VOC het sy 28ste Algemene Jaarvergadering op 25 Maart 2023 by SASNEV gehou. Ná die gerbruiklike sakepunte soos die voorsitter se jaarverslag, verkiesing van die komitee en 'n oorsig van die Stigting se aktiewe projekte, het ons spreker Dr Wium van Zyl gepraat oor 'n visie van 'n eie boekery en dokumentasie sentrum vir die Stigting VOC.

Bestaande komiteelid Viljoen van Heerden is verkies as ondervoorsitter – 'n posisie wat etlike jare vakant was. Nuwe komiteelede is Ignatius Pretorius, wat oorneem by Calla Wessel as penningmeester, en Alwyn van der Merwe wat die portefeulje van Regshulp sal bestuur.

'n Video-opname van die vergadering kan is by die volgende skakel beskikbaar:

https://youtu.be/HW63c_NgfNI

Hier volg die voorsitter, Alex Giardini, se jaarverslag:

Die Stigting VOC het in 2022 weer eens 'n besonder suksesvolle jaar beleef. Die vergaderings het toegeneem, voorbereidings vir die 27ste Algemene Jaarvergadering is vroeg getref, die finansieële state en die notule van die vorige AJV is vir ondersoek aan die lede gestuur. Die AJV is op Saterdag, 26 Maart 2022, by SASNEV gehou. Agtien lede was teenwoordig en met behulp van JITSI kon lede wat nie fisiek teenwoordig kon wees nie, virtueel aan die verrigtinge deelneem.

Twee komiteelede naamlik dr Karen Jennings en mnr Calla Wessel het besluit om uit te tree, maar steeds voort te gaan met hulle daadwerklike ondersteuning. Die orige dienende lede is in hulle poste bevestig. Die volledige komitee vir 2022 het uit mnr Alex Giardini, (voorsitter), mnr Rudolf Rode (sekretaris), dr Dan Sleigh (nuusbrief) en mnr Jaco du Plessis (elektronika) betaan. Intussen het mnr Viljoen van Heerden in dr Karen Jennings se pos, te wete oorsese korrespondensie, waargeneem. Die bestuur het besluit om die ledegeld vir 2023 nie te verhoog nie.

Ons het in 2022 ’n uitstappie na Kersefontein, die historiese plaas van Martin Melck, onderneem. Sy nasate boer nog steeds op hierdie besondere plaas en ons is na 'n besoek aan die familiebegraafplaas, ’n rondleiding na die buitegeboue en die ou perdestalle besonder mooi deur die huidige eienaar, mnr Julian Melck, op 'n middagete onthaal.

Verlede jaar het ons ons kwartaalikse lesings hervat. Die eerste lesing is deur dr Kate Akema by ons AJV oor die onderwerp “The Dutch East and West India Companies at odds” gehou. Dr Ekama het die konflik tussen die VOC en WIC oor die VOC se groeiende Tafelbaainedersetting in die 1650s geskets. Hierdie insiggewende praatjie het ons aandag daarop gevestig dat die Kaapse nedersetting tegnies in die WIC se oktrooigebied was. Gevolglik moes die VOC die WIC vir die voortgesette gebruik van die Kaap geldelik vergoed.

Op 26 November het dr Alberta van Rooyen ’n praatjie oor die gebied wat die Tokai- en Cecilia-bosboustasies insluit, gelewer. Daarby het sy onder meer die Prinsesvlei-mite behandel. Ons was in gereelde kontak met die VOC Kamer Antwerpen en het ook weer met ons susterverenigings die Camer die Haghe en De Haagsch Besoygne in Nederland kontak gemaak. Vier nuusbriewe getitel Generale Missive is geplubliseer en onder ons lede versprei. Ons was in die gelukkige posisie dat ons gereelde bydraes van prof. G. Groenewald, dr M. Barter en dr Karen Jennings daarin kon plaas.

Kennisgewings is soos gewoonlik per Roeper bekend gemaak en ons het voortgegaan om ons komiteevergaderings kwartaalliks te hou.

Van ons aktiwiteite gedurende die laaste twaalf maande sluit die volgende in:

Op 2 Augustus het ons samesprekinge oor die VOC-bakensteen op Geelbeksfontein gehou. By hierdie vergadering was drie instansies aanwesig: Erfenis Wes-Kaap, Stigting VOC en die ereveldwagters van die Nasionale Weskuspark. Dr Dan Sleigh, mnr Rudolf Rode en mnr Alex Giardini het ons Stigting verteenwoordig. Stappe wat gedoen kan word om hierdie baken te bewaar en aan toeriste bekend te stel, is bespreek. Voorts was daar ook sprake van ’n voorgestelde VOC-staproete in die Nasionale Weskuspark.

Ten slotte is oorweging geskenk aan die verskuiwing van die seinkanon wat tans nog by die Vygekraal-padstal langs die R27 staan, na sy oorspronklike posisie op Konstabelskop in die park. Vroeër vandeesmaand is aan SANRAL 'n motivering en foto’s gestuur om ’n bruin naambord langs Sir Lowry’s Pas op te rig as wegwyser na die historiese Gantouwpas. SANRAL het onderneem om ons voorstel by ’n bestuursvergadering op 14 April te bespreek en ons verneem graag wat hulle dan besluit.

Komiteelid Alex Giardini het voortgegaan met die ontwikkeling van ons Stigting se interaktiewe elektroniese kaart met betrekking tot die VOC in Suider-Afrika. Hierdie hoogs interessante kaart toon al die buiteposte onder Kaapse bestuur, meer as 100 skeepswrakke, meer as vyftig seinkanonne en kusbatterye en meer as 400 plase in die Kaap.

Komiteelid Alex Giardini het tot dusver vyf potgooie oor verskillende VOC-onderwerpe opgeneem. In Maart 2022 het die Stigting 'n brief aangaande die herklassifisering van die boek The Lie of 1652 aan Tafelberg Uitgewers gestuur, aangesien ons die mening huldig dat hierdie boek as fiksie geklassifiseer behoort te word. Die volledige brief lê ter insae op ons webtuiste onder „projekte“.

Met verwysing na die VOC se kanonseinstelsel was ons betrokke by die waardebepaling van die seinkanon wat voorheen voor die munisipale gebou op Moorreesburg gestaan het. Met die ondersteuning van mev Madelaine Terblanche van die Swartland-munisipaliteit is hierdie kanon met 'n ploeg vervang en na sy oorspronklike posisie op die plaas Kanonkop tussen Moorreesburg en Riebeek-Wes verskuif. Die huidige eienaar van die plaas sal op eie onkoste die kanon laat restoureer en op ’n affuit laat plaas in die hoop dat dit toerisme in hierdie kontrei sal aanwakker.

Die verwaarlosing en verval van die Kasteel de Goede Hoop is met die bewaringsargitek, mnr Simon Knusson, bespreek. Laasgenoemde het onderneem om 'n verslag oor sy bevindings te skryf sodat ons dit onder die aandag van die Premier van die Wes-Kaap en Kaapstad se burgemeester kan bring. Ons is van mening dat die Kasteel ‘n belangrike baken en ’n groot toeristebate is en dus behoorlik bestuur en onderhou behoort te word.

Die heldedaad van Wolraad Woltemade word herhaaldelik in ons bestuursvergaderings bepreek met die oog op toekomstige projekte. Voorbeelde hiervan:

  • (a) Die moontlike verskuiwing van die Woltemade-standbeeld na die Kaapstadse stadhuis.
  • (b) die moontlikheid om eienaarskap van die Woltemade-medalje van die staatsheraldikus te bekom.
  • (c) Die moontlike toekenning deur die Provinsie of Stadsraad van 'n Woltemadetoekenning (byv. ’n replikastandbeeldjie) vir dapperheid deur lede van nood- en reddingsdienste. Hierdie projekte het nuwe momentum begin kry met die vernuwing van die komitee, die opkomende 250ste herdenking op 1 Junie 2023 en met die hulp van die FAK.

Daarbenewens het ons reeds verlede jaar met die FAK saamgewerk toe Dan Sleigh by geleentheid van die 370ste herdenking van Stigtingsdag by SASNEV 'n praatjie oor Jan van Riebeeck se werk aan die Kaap gelewer het.

Mnr Willem Hutten, lid van die Stad Kaapstad se erfenisbestuur, help ons graag met sekere projekte rondom Kaapstad, insluitende die onderhoud van Wagenaer se waterbak in die Goue Akker, die batterye op Constantianek, die kanonne in Kampsbaai en die inligtingsbord by De Hel. Ons het hom onlangs ook betrek by ons voorgestelde Gantouwpas-inligtingsbord. Hy het ons in kennis gestel dat die stadsraad nie vir die inligtingsborde verantwoordelik is nie, maar wel advies rakende die inhoud kan voorsien. Dit lyk egter nou asof dit tog die stadraad se portefeulje kan word; die bevestiging word nog afgewag. Dit sal gevolg word deur 'n deeglike opname van die erfenisverwante borde, 'n prioriteitslys en die vernuwing en onderhoud van die borde.

Hierdie projekte staan tans stil weens die stadraad se gebrekkige kommunikasie.

Ten slotte bedank ek SASNEV vir die gebruik van hul saal en ander fasiliteite, die komiteelede vir hul harde werk en entoesiasme en al ons getroue lede, oor die land versprei, vir hul belangstelling en steun vir ons werk.

v.l.n.r. Mnre V.van Heerden, A. Giardini (voorsitter), R. Rode (sekr.), D. Sleigh, I Potgieter (tesourier), J. du Plessis
v.l.n.r. Mnre V.van Heerden, A. Giardini (voorsitter), R. Rode (sekr.), D. Sleigh, I Potgieter (tesourier), J. du Plessis