Instandhouding van Kasteel


2016-2019

Die volgende brief is in Januarie 2019 in Die Burger gepubliseer:

Verwaarlosing van die Kasteel

In aansluiting by mnr. J. Rademan se brief (DB; 10.1.19). Dit is amper ongelooflik dat die unieke Kasteel, wat ’n UNESCO-Wêrelderfenisterrein behoort te wees, nie onder die Skiereiland se top ses toeriste-aantreklikhede tel nie (Radio Sonder Grense; 07:50, 15.1. 2019). Die agteruitgang is jammerlik om te sien. Die Kasteel se beheerraad behoort kennis te neem hoe historiese VOC-geboue in Indonesië positief vir toerisme en opvoeding aangewend word.

Lede van Stigting VOC se bestuurskomitee het in 2018 in die Kasteel vergader met die Hoof Uitvoerende Beampte, ’n lid van die Kasteel Beheerraad en personeellede, insake vullishope langs die Kasteel se mure, onkruid buite en op die mure, vetkolle op die plaveisel, kennisgewings van plastiek aan die mure, ’n groot tent wat die voorhof vol staan en besigtiging verhoed, lugsuiweringstoestelle op die dwarsmuur se dak, en ander vorms van visuele besoedeling en onsensitiewe erfenisbestuur.

Die bestuur se verweer teen die slordigheid was dat daar nie personeel of geld voor is nie, maar dat die toestand in Oktober sou verbeter. Daar is tog geld gevind om ’n aantal standbeelde te maak van figure, wat as ‘warrior kings’ (’n onhoudbare stelling) bestempel en opsetlik vlak voor die eeue-oue barok pui uitgestal word, ‘positioned in front of the Kat balcony (sic), visually defying the most conspicuous symbol of colonialism,’ (aanhaling uit Kasteel Beheerraad se Jaarverslag, 2017) as gevolg waarvan dit vir besoekers onmoontlik geword het om dié argitektoniese juweel te geniet, te waardeer of te fotografeer.

Ons is van mening dat die H.U.B en Voorsitter van die Beheerraad onsensitief ingestel is teenoor dit wat hulle aangestel is om te beskerm en te bevorder, en ondersoek nou of die Wet op Nasionale Erfenis Hulpbronne (Wet 25 van 1999) in die proses oortree word. Die plakkersskuilings teen die mure in Strandstraat is Stad Kaapstad se taak; dit vererger die indruk van vullis, verval en gevaar rondom die Kasteel, wat Kaapstad se trots behoort te wees.

Die uwe J.L Hattingh (Prof.) Voorsitter: Stigting VOC

Afdrukke van briewe:

Die foto's hiernaas is geneem in Januarie 2019 en dui op die swak versorging van die Kasteel en die terrein.